Wilhelmus van Nassouwe

Die Wilhelmus is die volkslied van Nederland. Dit bestaan uit 15 koeplette wat 'n acrostichon vorm: in die ou variant het die eerste letters van die 15 koeplette die naam Willem van Nassov gevorm.

Die eerste koeplet word gereeld gesing, soms gevolg deur die sesde wat in die Tweede Wêreldoorlog baie populêr was. Die lied is ook in die Suidelike Nederlande gewild. Dit word daar gereeld gehoor by 'n Cantus. Die Wilhelmus is die amptelike Nederlandse volkslied sedert 10 Mei 1932; daarvoor was dit "Wien Neêrlands bloed".

Die Wilhelmus is inhoudelik geskryf as 'n lied wat deur Willem van Oranje gesing sou word (maar nie noodwendig deur hom gesing is nie), dit weerspieël sy tweestryd gedurende die Opstand in die Nederlande. Aan die een kant probeer Willem van Oranje om trou te wees aan die Spaanse koning, aan die ander kant is hy bo alles trou aan die Nederlandse volk.

Die herkoms van die teks is nog steeds nie duidelik nie. Die Wilhelmus is 'n geuzelied en de meeste hiervan is anoniem; vir die skryf van opstandige liedere was destyds die doodstraf beveel. Sedert die begin van die 17e eeu is daar geskrifte wat vermeld dat dit geskryf is deur Marnix van St. Aldegonde, tussen 1570 en 1572. Daar is egter gegronde redes om te twyfel aan sy outeurskap. Dit is moontlik dat die Wilhelmus oorspronklik in Duits geskryf was deur vlugtelinge vanuit die Nederlande, wat met die lied Duitse vorste vir die Nederlandse saak probeer wen het. Ander sê weer dat dit deur Coornhert geskryf was. Die wysie is afkomstig van 'n ou Franse soldatelied. 'n Teorie waarmee ook rekening gehou word is dat dit deur 'n onbekende digter geskryf was, en dat dit daarna deur Marnix van St. Aldegonde bewerk is. Wat die datum aanbetref, word daarvan uitgegaan dat dit na Mei 1568 geskryf is - aangesien die trek langs die Maas in die lied vermeld word - asook voor April 1572, aangesien dit wil lyk asof die verowering van Den Briel in dié lied onbekend is. Die Wilhelmus is derhalwe die oudste Nederlandse volkslied wat nog in gebruik is.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne